Wat glo ons

  1. Ons glo (1) dat die Heilige Skrif, in die oorspronklike geskrifte, uit 66 boeke bestaan, en dat dit verdeel word in die Ou en Nuwe Testamente; (2) dat die Gees van God die skrywers van die Bybel geïnspireer het, en beïnvloed het om die Bybel te skrywe, en gevolglik is die Bybel die Woord van God; (3) dat as gevolg van die Goddelike oorsprong en inspirasie van die Bybel se woorde, die Bybel ten alle tye beskou moet word as waar, betroubaar en foutloos; (4) dat die Bybel die volledige en enigste geskrewe openbaring van God aan die mens is; (5) dat elke vertaling wat getrou is aan die oorspronklike geskrifte en deur middel van verantwoordelike interpretasie vertaal is, duidelik die noodsaaklike waarhede openbaar wat nodig is om die mens te leer oor redding, heiligmaking en geestelike volwassenheid, en (6) dat die Bybel alleen ons voldoende en finale outoriteit is tot sake van geloof en praktyk.

 

  1. Ons glo (1) in een God wat ewig bestaan in drie persone – die Vader, die Seun en die Heilige Gees; (2) dat alhoewel elke persoon in die Drie-eenheid ten volle God is, hulle in verhouding tot mekaar en hul werke, van mekaar verskil; (3) dat hierdie drie- enige God volmaak en oneindig is in Sy wese en eienskappe – ‘n allerheilige, alleenwyse, alomteenwoordige, almagtige, liefdevolle en soewereine God; (4) dat God van voor die skepping af besluit het om sondaars te red deur die dood van sy Seun, en om die hele geskiedenis volgens Sy soewereine plan te regeer en uiteindelik alle dinge onder Christus te bring; en (5) dat alle dinge van Hom, deur Hom en tot Hom bestaan, en geskape is om die heerlikheid van sy wonderlike Naam te vertoon.

 

  1. Ons glo (1) dat God in die begin alle dinge, sigbaar en onsigbaar geskape het en ‘n behae daarin gehad het; (2) dat Hy die mens en sy vrou as Sy beeld draers geskape het, en aan elkeen gelyke waarde gegee het, en hulle geroep het om oor Sy skepping te regeer en dit te versorg; (3) dat lewe vir God kosbaar en heilig is, en met bevrugting begin, en dat dit in geen stadium onbybels beëindig moet word nie; (4) dat God die huwelik geskape het as ‘n afsonderlike, eksklusiewe en lewenslange verbintenis tussen ‘n natuurlike man en ‘n natuurlike vrou, en dat die man die verantwoordelikheid gegee is om liefdevolle leierskap toe te pas, en dat die vrou die rol van versoenbare ondersteuning en bystand moet bied; (5) dat die eerste mens, Adam, gesondig het en daardeur die dood gebring het, fisies en geestelik, vir alle mense, en as gevolg van sy sonde, erf elke mens ‘n sondige natuur, wat werklike oortreding en persoonlike skuld tot gevolg het.

 

  1. Ons glo (1) dat die ewige Seun van God die menslike natuur aangeneem het, en dat Hy in alle opsigte mens geword het soos ons, behalwe dat Hy geen sonde gehad het nie; (2) dat, nadat Hy deur die Heilige Gees verwek is, Hy gebore is uit die maagd Maria, Jesus genoem is (wat ‘God red’ beteken), en dat Hy vanaf bevrugting ten volle God en ten volle mens in een persoon was; en (3) dat Hy dus die volmaakte en enigste middelaar tussen God en mense is.

 

  1. Ons glo (1) dat die Here Jesus Christus ‘n sondelose lewe geleef het, in alle opsigte volkome aan sy Vader gehoorsaam was en die beloofde Koninkryk van God in al sy woorde en dade ingelyf het; (2) dat Hy Homself as die volmaakte plaasvervangende en versoeningsoffer vir sondaars gegee het, vanweë die vreugde wat voor Hom was, (3) dat Hy oor die sonde, die dood en alle bose magte triomfeer het, en dat Hy vir Hom ‘n volk uit elke stam, taal en nasie voorberei wat Hom sal aanbid; (4) dat die Seun van God aan Sy kruis die straf van God se toorn teen ons sonde geneem het, en (5) dat Sy bloed wat Hy op die kruis gestort het, die enigste basis is vir ons redding en die grootste openbaring is van die heerlikheid van die genade van God.

 

  1. Ons glo (1) dat die Here Jesus gekruisig is, begrawe is en op die derde dag liggaamlik uit die dood opgewek is en verheerlik is as die eersteling van God se nuwe skepping; (2) dat Hy opgevaar het na die hemel toe, waar Hy aan die regterhand van die Vader sit as Heerser oor alle dinge; (3) dat Hy tans optree as Hoëpriester en Voorspraak vir almal wat deur Hom tot God nader; en (4) dat Hy persoonlik, sigbaar en in Sy heerlikheid sal terugkeer om die lewendes en die dooies te beoordeel.

 

  1. Ons glo (1) dat die Heilige Gees God en Heer is, die gewer van die lewe, wat die wêreld gevorm het, en sekere individue bemagtig het om volgens God se doeleindes, God se woord aan ons te gee; (2) dat God Jesus Christus met die Gees gesalf het en sodoende Jesus vir sy bediening bemagtig is, en dat die Gees op Pinkster aan die Kerk gegee is om binne gelowiges te woon, hulle te lei en met ander gelowiges te verenig, en dat Hy elkeen vir verskillende dienswerke toerus volgens Sy wil; (3) dat die Heilige Gees Christus verheerlik, insig tot die Woord skenk, mense oortuig van hulle sonde, gelowiges met Jesus verenig en die gesindheid van Christus in Sy kinders vorm; en (4) dat die Gees die liefde van God in ons harte uitstort, gebed en getuienis moontlik maak en die gelowige verseël vir die dag waarop hulle in hulle liggame verlos sal word.

 

  1. Ons glo (1) dat almal wat Christus Jesus as Verlosser en Here ontvang het, deur die Heilige Gees wedergebore is en ‘n nuwe skepping in Christus geword het; (2) dat sondaars deur geloof in Hom die vergewing van sondes ontvang en op grond van Sy bloed regverdig verklaar word; (3) dat bekering ‘n voorwaarde is vir hierdie redding en die eerste teken is van daardie heiligheid waarsonder niemand die Here sal sien nie; (4) dat gelowiges op grond van hulle vereniging met Christus deel het aan al die voordele van genade wat in Hom is, insluitend die aanneming as kinders, en die gawe van die Heilige Gees; en (5) dat almal wat hulle van hul sonde bekeer, en op Christus vertrou, die versekering mag hê dat hulle deur Hom bewaar en aanvaar sal word.

 

  1. Ons glo (1) dat die Kerk die hele vergadering is van diegene wat verlos is deur Jesus Christus, wedergebore is deur die Heilige Gees, versoen is met die Vader en daardeur met mekaar ook; (2) dat die Kerk die volk van God is, die liggaam van Christus en die tempel van die Heilige Gees is, deur wie God se doelstellings in die geskiedenis bekend gemaak is; (3) dat die plaaslike Kerk, as ‘n manifestasie van die universele Kerk bestaan – ‘n gemeenskap van gelowiges, binne ‘n bepaalde plek waar God se Woord verkondig en gehoorsaam word, waar die twee ordinansies of verordeninge beoefen word; en waar kerklike dissipline uitgevoer word; (4) dat beide mans en vroue in die plaaslike kerk gelyk moet dien, en dat manlike hoofskap sigbaar moet wees; en (5) dat elke plaaslike kerk deur Jesus Christus regeer word, deur die herders gelei word, en bedien word deur haar diakens.

 

  1. Ons glo (1) dat die Here Jesus Christus twee verordeninge daargestel het naamlik die doop en die nagmaal, om as dade tot gehoorsaamheid beoefen te word en om as getuies te dien van die primêre feite van die Christelike geloof; (2) dat die doop die onderdompeling is van ‘n belydende gelowige in water as ‘n getuienis van vereenselwiging met Christus in sy dood, begrafnis en opstanding; en (3) dat die Nagmaal die neem van die brood en die beker is, wat deelname aan die Heiland se liggaam aandui en die bloed wat vir ons gestort is ter herinnering aan Sy dood, totdat Hy weer kom.

 

  1. Ons glo (1) dat die doel van die Kerk is om dissipels te maak van alle mensegroepe op die ganse aarde deur die waarheid van die Evangelie van Jesus Christus aan hulle te verkondig , en om plaaslike gemeentes of kerke te vestig en om die mense te leer om alles te gehoorsaam wat Jesus aan die Apostels geleer het; (2) dat ons die liefde van God aan ander sal toon deurdat ons ons naaste lief sal hê soos ons onsself lief het, met medelye, prakties en met wysheid; en (3) dat ons dit alles volgens die Skrif moet doen, in die skadu van die Kruis en in die krag van die opstanding van Jesus Christus.

 

  1. Ons glo (1) in die liggaamlike opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges; (2) dat alle mense voor God se regters-stoel sal verskyn om hul beloning te ontvang vir die dinge wat in die liggaam gedoen is; (3) dat diegene wie se name in die boek van die lewe en van die Lam geskryf is, die ewige lewe sal ingaan, maar dat die onregverdiges tot die ewige veroordeling oorgelewer sal word; en (4) dat ons volgens God se belofte uitsien na ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon, wanneer ons vir ewig by die Here sal wees, en Hy met ons: Kom Here Jesus, kom!